AFTREDE – Waak teen Paniek Besluite

Connie Bruwer van PC Bruwer en Vennote gee raad oor hierdie belangrike onderwerp.

“Waak teen paniek besluite.”

Wanneer die tyd vir aftrede nader kom, is daar die gevaar dat ‘n mens in hierdie tyd maklik paniekbesluite kan neem.  Waak daarteen.

Jy het ‘n werk wat ‘n inkomste bied.  Hou vas daaraan, want dit bring geld in wat ‘n belegging nie vir jou gaan of kan inbring nie.

Dit is sommer dom om te bedank om jou penioen te kry om dan net so in ‘n ander belegging te gaan steek, want:

  • jy verloor inkomste en
  • jy beperk verdere groei op daardie pensioengeld.

Beskou jou werk, enige werk, as ‘n uitstekende belegging, want dit is.  (Terloops, die trek van pensioengeld het boonop ‘n belastingnadeel vir jou).

Los die pensioenfondsgeld wat jy uit jou vorige werkgewerfonds gespaar het liewer net so.

Jy kan dalk dat iemand jou help om seker te maak dat dit in ‘n goeie fonds is in die lig van jou betrokke risikoprofiel.

Maar moenie te veel daaraan karring nie, sorg net dat jy nie in hoërisikobeleggings is nie—jou beleggingshorison is te kort daarvoor.

Jy besit reeds eiendom.  Dit is goed, want jy is in ‘n mate beleggingsgewys gediversifiseer.

Gebruik die addisionele inkomste wat jy kry om jou verband af te bring.

Die ekonomiese horison dreig na ‘n rentekoersverhoging.

Jy kan die pak slae wat dit vir baie mense gaan bring vir jouself ligter maak deur nou te betaal dat jy bars om skuld af te los.

Wanneer jy die belastinggaarder verneuk, verneuk jy ook jouself.  Boonop kan jy nie rykdom skep met ‘n verneukspul nie.  Ja, jy kan op kort termyn kontant rondgooi asof dit uit die mode gaan, maar van langtermyn-finansiële groei sal daar weinig kom.

Jy kan byvoorbeeld nie spaar vir jou oudag nie, want die Wet op Finansiële Intelligensiesentrum (Fis) gaan jou uitlig sodra jy geld wil belê.  Met enige belegging vandag moet jy sê waar jy aan die geld gekom het.

Finansiële beplanners moet verklarings aflê dat aan die Fis-vereistes voldoen is.

Alle uitgawes in so ‘n onderneming wat nie belasting betaal nie, is vir die sak van die eienaar.

Salarisse van werkers, bedryfsuitgawes, werkersvoordele en selfs bydraes tot jou eie aftree-neseier is alles aftrekbaar, wat die belastinglas minder maak.

Met vergunning van PCBruwer en Vennote: http://pcbruwer.co.za/