Rek die rande met ‘n eenvoudiger leefstyl

Rek die rande met ‘n eenvoudiger leefstyl – artikel deur Ansja Ferreira. Met vergunning van PC Bruwer en Vennote

Hier volg n uittreksel uit die artikel. Die raad en wenke genoem is ook van toepassing op alle 50Plussers, reeds afgetree of nie.

“Dit gaan maar swaar in baie huishoudings, aangesien die lewenskostes so hoog word.  Klein dingetjies kan ‘n groot verskil maak. Deur kreatief te dink, kan jy die kostes in jou huishouding afbring, maar nog steeds lekker leef en pret saam met jou geliefdes hê.Waarop gee mense hul geld uit? 

‘n Eenvoudiger leefstyl

“Vir baie mense kan dit dalk traumaties wees om oor te skakel na ‘n eenvoudiger leefstyl, maar as mens weet dat daar wêreldwyd oor ’n hierdie onderwerp gedink en geskryf word, is dit dalk iets om weer oor te dink en eintlik opgewonde oor te raak, sê Connie Bruwer, ‘n geoktrooieerde rekenmeester.

Daar is ’n paar goed wat gedoen kan word, sê Connie:

  • Koop ’n kleiner huis. Dit is duur om ’n groot huis en ’n groot tuin in stand te hou en om so ’n huis te verwarm.
  • Ry ’n goedkoper motor, want ’n goedkoper maar betroubare motor is gewoonlik ligter op brandstof.Deesdae het die meeste motors, selfs met ’n enjin van 1600 cc, baie luukshede in en hoef jy dus nie te voel jy is slegter daaraan toe as jy ’n goedkoper motor ry nie.Baie mense is bereid om presies dit te doen as so ’n opoffering beteken dat jy meer gereeld gholf kan speel of meer met vakansie kan gaan.
  • Laat staan die duur TV-diens. Daar is goedkoper alternatiewe wat ook jou gunstelingprogramme aanbied.
  • Knip die kredietkaart middeldeur of sorg dat jy dit elke maand ten volle aflos.
  • Betaal jou kar in drie jaar af. Betaal ekstra geld tot jou beskikking op jou huis af.Jy kan sodoende in ’n dekade of wat honderdduisende rande aan rente spaar.
  • Moet niks koop wat jy nie werklik nodig het nie.  Koop vir jou kinders ‘n eenvoudige selfoon sonder al die truuks, kameras en bykomstighede.
  • As jy al dié dinge doen, kan jy dalk ’n eenvoudiger werk “bekostig”.’n Werk wat dalk minder stres tot gevolg het en ook meer tyd bied om te gaan stap of draf of gholf te speel – iets wat jou lewenstyl kan verbeter sonder dat dit jou ’n fortuin hoef te kos.
  • Moenie skuld maak nie. Dit maak dat jy later nog harder moet werk net om die skuld terug te betaal en jy kan dus nie die belangrike goed in jou lewe geniet nie.

As jy so ’n eenvoudiger lewenstyl kan begin implementeer, gaan dit dalk beteken dat jy meer oor het om aan ander wat minder bevoorreg is te gee.

En as jou stres minder is, gaan jy in elk geval langer, gelukkiger en gesonder leef”, sê Connie.

Besoek grus PC Bouwer en Vennote vir meer inligting en nog meer interessante artikels. http://pcbruwer.co.za/